Trio Primêr se Omgeegroep se harte klop warm vir ons medemens. Ons wys graag ons liefde op ‘n tasbare manier.
Gedurende 2024 het ons onder andere hospitaalbesoek gedoen by ‘n maatjie wat baie siek was en het ook die inwoners en personeel van die
Arboretum Sentrum vir Bejaardes besoek en tyd saam met hulle deurgebring.
Daar is ‘n groot behoefte aan liefde en omgee in ons samelewing en daarom reik gr. 1 tot 7-leerders graag uit na hulle onder
die leiding van Mnr. Willem Roets en Juf. Chané Chamberlain.
Baie dankie aan elkeen vir julle omgee. Dit maak ‘n verskil in baie se lewens.
Reading Rocket
Die lees- en spelprogram van Stimulus Maksima (Reading Rocket) is ‘n jaar gelede in gebruik geneem. Graad 1 tot 7 leerders het toegang tot die program. Die vordering van die leerders in rekenaarvaardigheid, lees- en spel is merkwaardig.
Die skool se program word kwartaalliks deur Stimulus Maksima gemonitor en ‘n volledige rapport van elke leerder se vordering word deurgegee. Trio Primêr betree hiermee ‘n nuwe fase met die gebruik van tegnologie in die skoolkurrikulum en word bestempel as een van die voorlopers op hierdie gebied.
Robotika
By Trio Primêr maak ons seker ons leerlinge is toekomsgereed deur hulle rekenaarvaardighede en kennis met behulp van Robotika te ontwikkel. Die leerlinge leer die basiese vaardighede van rekenaarprogrammering en doen kennis van hardeware soos robotte en micro bits op.
Die implementering van ‘n spesiale kurrikulum vanaf Resolute Robotika, ‘n markleier op die gebied van Robotika, word vir 2025 beplan.
Nasionale Conquesta Olimpiade
Trio Primêr het verlede jaar weer die voorreg gehad om aan die Nasionale Conquesta Olimpiade deel te neem. In 2023 het Trio Primêr uitstekend uitslae behaal. In 2024 het 71 grondslagfase- en 97 intersenfase-leerders gedurende die derde kwartaal 'n totaal van 540 vraestelle geskryf.
Te danke aan Juffrou Antoinette De Crescenzo, Yolise Vorster en Elrita Grobbelaar, tesame met die toesighouers, het die aflê van die eksamens vlot verloop.
Hierdie betrokkenheid en samewerking van die onderwysers en toesighouers speel 'n sleutelrol in die sukses van ons leerders. Dit is 'n voorbeeld van hoe toewyding en spanwerk tot merkwaardige prestasies kan lei. Trio Primêr sien uit na nog 'n suksesvolle jaar in die Conquesta Olimpiade.