Trio Primêr se Omgeegroep se harte klop warm vir ons medemens. Ons wys graag ons liefde op ‘n tasbare manier.
Gedurende 2024 het ons onder andere hospitaalbesoek gedoen by ‘n maatjie wat baie siek was en het ook die inwoners en personeel van die
Arboretum Sentrum vir Bejaardes besoek en tyd saam met hulle deurgebring.
Daar is ‘n groot behoefte aan liefde en omgee in ons samelewing en daarom reik gr. 1 tot 7-leerders graag uit na hulle onder
die leiding van Mnr. Willem Roets en Juf. Chané Chamberlain.
Baie dankie aan elkeen vir julle omgee. Dit maak ‘n verskil in baie se lewens.
Dans
Leerlinge van Trio Primêr wie se voete jeuk, klop by Dancing Stars Dance Studio en Dance Domination aan. By Dancing Stars neem ons leerlinge aan Country and Western Couple Dancing, sosiale- en klassieke lyndans en moderne dans, onder leiding van Johan Labuschagne, deel. Die leerlinge wat by Lené de Villiers (Le Roux) van Dance Domination dans, ontwikkel vaardigheid in Freestyle, Acrobatic Dancing, Hip Hop en Aerial Arts.
Trio Trommies
Die groepie het gedurende 2024 bestaan uit 22 dogters van graad 1, 2 en 3. Dit was ‘n baie gedrewe en pligsgetroue groep dogters. Hulle het hard gewerk en gekonsentreer om al die bewegings onder die knie te kry. Dit vat ure se oefening en geduld om ons optrede so goed te kry.
Tydens hulle optredes het hulle pragtig en netjies gelyk in hulle rokkies. Hulle het elke oomblik van die vertonings geniet. Hulle selfbeeld en liggaamshouding verbeter met elke oefening. Die trommies het by die graad 1 opedag, Trio Ritmefees en gedurende saalopening opgetree.